Donderdag 05 Januarie 2023

DBO Afrikaans EAT: Krisis - Elisabeth Eybers

 DBO Afrikaans EAT: Krisis - Elisabeth Eybers: Inhoud

Die spreker beskou die konflik tussen haar emosies en verstand as 'n krisis en besef dat sy haar nie langer deur haar hart kan laat lei nie, maar deur haar gesonde verstand. Tot dusver het haar hart voorgeskryf hoe sy moet optree en op situasies reageer, maar die hartsbesluite was meestal die verkeerde besluite om te neem. Die tyd het nou gekom dat sy haar deur haar verstand moet laat lei.

In die gedig praat die hoof met die hart en sê dat dit tyd is dat hul paaie moet skei. Die hart kan nie die hoof langer toelaat om leiding te gee nie. Alhoewel die leiding meestal "lieflik" was, was dit nie die regte leiding nie. Die hart wou nie dié leierskap met die hoof  deel nie, dit wou tegelyk die gas en die gasheer wees, die seremoniemeester én die nar. Die hart het egter nou vir die hoof 'n las geword, want dit tree oorhaastig, besluiteloos en dwaas op. Die hart het altyd die maklike uitweg gekies, en die hoof besef dat die pad vorentoe moeilik en selfs gevaarlik sal wees.

Die hoof besef dat die tyd besig is om min te raak en dat hulle paaie móét skei. Die "kermis" is verby en dit is tyd vir ernstige besinning. Die "nar" kan nie langer die besluite neem nie, want dit is dwase besluite wat die hoof benadeel en net verwar. Die hoof wil aan die einde weet of die hart ook kan besef dat die skeiding noodsaaklik en onvermydelik is.

Die gedig is as 'n monoloog geskryf. Die hoof praat deurentyd met die hart oor die krisis wat bestaan. Daar vind nie 'n gesprek plaas nie en kommunikasie is eensydig, want die hoof is die enigste spreker terwyl die hart die toehoorder/luisteraar is.  

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking