Vrydag 10 Desember 2021

'n Hart is net atome deur Cecilia Steyn

'N HART IS NET ATOME

'n Hart is net atome deur Cecilia Steyn is een van daardie skaars soort boeke op die Suid-Afrikaanse jeuglektuuur-mark – 'n romantiese grafiese roman.  

Dit vertel die verhaal van Pho Fen Lan, 'n Chinees-Afrikaanse meisie wat konvensies uitdaag deur haar gedrag, kleredrag en keuse van sport – boks. Haar pa, Jianguo, kan nie aanvaar dat sy boks nie en wil hê dat sy harder moet studeer. Dis asof hy nie raaksien hoe hard en toegewyd Poh aan haar sport oefen nie en hy gee haar geen krediet vir haar prestasies nie. Poh se ma ondersteun haar dogter egter. As Pho se beste vriend, Theo, verlief raak op die pragtige Nisa, krap dit Pho se hele wêreld deurmekaar. Sy is nie net bang dat sy Theo se vriendskap gaan verloor nie, maar sy is ook heimlik op hom verlief. Pho besef dat Nisa nie eerlik is teenoor Theo nie en begin met Operasie Sabotasie, met gevolge wat Pho nie voorsien het nie.

Hierdie grafiese roman spreek aspekte soos gesinskonflik, stereotipering, diversiteit, eerste liefde en selfbeeld aan. Pho se pa is tradisioneel en die gesin onderhou tradisionele Chinese kultuur en gebruike. Sy sienings kom in botsing met sy dogter s'n en hul gesin se verhoudings ly daaronder. Hierdie gesin spreek diversiteit op 'n unieke wyse aan – Lingling, Pho se suster, is meer tradisioneel as sy en gebruik etlike Chinese spreekwoorde. Die leser maak kennis met die viering van die Chinese Nuwejaar en daar word selfs melding gemaak van gereëlde huwelike. Pho is definitief nie 'n "pienk pom-pom meisie" nie, wat veroorsaak dat Theo vir haar sê dat sy "soort van" 'n meisie is. Dit maak Pho kwaad, want sy voel Theo misken haar uniekheid en andersheid. Sy wil net haarself wees en aanvaar word soos sy is. As sy 'n rok en grimering moet dra, voel sy ontuis in haar eie vel. Die konsep van jouself wees word duidelik oorgedra. Die ontluikende liefde tussen Theo en Pho verbeeld tipiese tienerliefde – die onsekerhede, wroeging, twyfel en uiteindelik die verwondering van verliefdheid word pragtig voorgestel.

Die verskyning van hierdie roman is iets wat my baie opgewonde maak, en ek hoop dat nog vele sal volg. Nie alleen sal dit onwillige lesers wat sukkel met lees aanmoedig nie, maar die lees van visuele narratiewe wek belangstelling en die illustrasies versterk taalgebruik. Dit lees vinnig, maar kan weer en weer herlees word. Dit ondersteun visuele geletterdheid wat 'n belangrike aspek van die kurrikulum is en kan met groot sukses in 'n klaskamer behandel word.

Naskrif: Danielle Albertyn se illustrasies is skitterend.

 [Foto met erkenning aan LAPA Uitgewers]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking