Donderdag 09 Desember 2021

Branderjaer deur Joha van Dyk

Hierdie debuut van die jong skrywer Joha van Dyk heet Branderjaer. Die titel en die treffende voorblad laat duidelik blyk dat branderplankry 'n groot rol in dié jeugroman speel. Dis egter nie net branderplankry wat prominent voorkom nie, maar ook ander waaghalsige toertjies soos kransduik, bergklim en spelonkery van lede van die Branderjaers-bende. Daar is 'n hegte band wat hulle deur onuitgesproke, donker geheime saamsnoer. 

Dis wanneer Deidre Anker, 'n Graad 11-leerder op die dorpie Stormsee, se lewe verstrengel raak met die lede van die Branderjaers, dat geheime begin ontrafel. Dis 'n ontmoeting tussen verskillende wêrelde. Deidre se lewe was tot dusver veilig en geborge en sy en haar ma het 'n duidelike plan vir haar toekoms. Dan raak sy betrokke by Louw Swanepoel en haar lewe verander onherroeplik. Deidre en Louw se verhouding is allesbehalwe maklik en sy besef spoedig dat Louw etlike geheime in hom ronddra. Sy verstaan ook nie regtig die ekstreme motiewe wat Louw en die ander Branderjaers voortdryf nie, en probeer hulle geheime ontrafel, Die trauma en verlies waaraan die vyf bendelede, Deidre, en ook die volwassenes op die dorpie, in die verlede onderwerp is, word geleidelik blootgelê en die leser kry begrip vir die impetus van handelinge en optrede in die roman.

Deidre kry geleidelik insig in Louw se begeerte om los te kom uit die bloedskuld wat hom en die ander Branderjaers bind. Dis haar verhouding met Louw wat haar oë oopmaak sodat sy besef dat daar ander toekomsmoontlikhede is, eerder as die veilige toekomsplanne om in haar ma se voetspore te volg. Louw se ontluikende liefde vir Deidre bring ook vir hom berusting as hy besef dat sy bloedskuld betaal is en dat hy sy skuldgevoelens oor die donker geheim in sy lewe kan agterlaat.

Die dorpie Stormsee bied die ideale agtergrond vir die narratief. Die kwessie van 'n bo- en onderdorp en die skeiding wat dit tussen mense bring en sosiale probleme soos alkoholisme, dwelmmisbruik, gesinskonflik, boeliery, verlies en die dood speel af teen die skoonheid van die kusdorpie.

Branderjaer is 'n opwindende toevoeging tot groeiende jong volwasse-lektuur in Afrikaans. Dit bied vir jonger lesers 'n kykie op die goed en die probleme van die lewe van 'n jong volwassene, maar selfs volwassenes kan aanklank vind by die probleme en kwessies waarmee tieners deesdae gekonfronteer word. Dié debuutroman met 'n nuwe boeiende tema word sterk aanbeveel vir jong volwassenes van alle ouderdomme.


 [Foto met erkenning aan Human & Rousseau Uitgewers, 2020]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking