Lien hou ook nie daarvan om by die skool te wees nie. Sy het haar
voorgeneem om nie by skoolaktiwiteite betrokke te raak nie en nie maats te maak
nie. Sy verlang gedurig terug na haar vorige skool en tref vergelykings tussen
Hoërskool Jakaranda en haar vorige skool. Sy doen slegs iets as sy daartoe
gedwing word, en alhoewel sy talentvol is en goeie leierseienskappe het, weier
sy om leiding te neem. Sy raak jaloers wanneer sy sien hoe Wouter mettertyd
deel van die skoollewe word, terwyl sy steeds eensaam en alleen is. Later bring
sy al hoe minder tyd by die skool deur, aangesien sy ook soggens gaan bedel.
Ten spyte van Lien se aanvanklike
weerstand, word sy mettertyd by die skoollewe betrek wanneer sy begin repeteer
aan die rol van Weird Maria. Uiteindelik word die skoolsaal en die verhoog die
plek waar sy vir Lien Jooste kan agterlaat en 'n nuwe identiteit aanneem. Dis
dan ook uiteindelik op hierdie einste verhoog waar Lien haar grootste triomf
behaal en waar sy die stukke van haar lewe optel. Die toneelstuk bring ook
sekerheid by Lien oor wat sy in die toekoms wil doen. Sy het altyd gedink sy
sou 'n prokureur word en haar pa se vennoot word, maar uiteindelik besef sy dat
die verhoog die plek is waar sy haar drome wil uitleef.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking