INHOUDSOPGAWE
1. WOORDESKAT
2. REЁLVERKLARINGS
3. INHOUD
4. BESPREKING
5. AGTERGROND EN KOMMENTAAR
6. VRAE
7. ANTWOORDE
INHOUDSOPGAWE
1. WOORDESKAT
2. REЁLVERKLARINGS
3. INHOUD
4. BESPREKING
5. AGTERGROND EN KOMMENTAAR
6. VRAE
7. ANTWOORDE
WOORDESKAT
leestekens – punctuationREЁLVERKLARINGS
|
Reël 1: Die spreker praat met haar ma en sê dat sy vir haar ʼn gedig skryf. |
|
Reël 2: Die gedig is baie eenvoudig – sy gebruik nie eens leestekens nie. Sy probeer dus nie allerhande indrukwekkende leestekens gebruik om haar ma te beïndruk nie. |
|
Reël 3: Die gedig is so eenvoudig – die woorde aan die einde van haar sinne rym nie eens nie. |
|
Reël 4: Die gedig is ook sonder bywoorde – woorde wat ʼn mens meer vertel oor die aksies en die redes vir sekere handelinge of gebeure. |
|
Reël 5–6: Sy skryf die gedig sonder enige spesifieke rede ("sommer") en dis ʼn "kaalvoete" gedig, met ander woorde ʼn eenvoudige gedig wat enigiemand kan verstaan. Daar is niks opgesmuks aan die gedig nie. |
|
Reël 7–8: Vanaf die woord "want" gee die spreker die rede waarom sy die gedig aan haar ma opdra: haar ma maak haar groot. Let op dat die spreker haar ma "jy" noem, ʼn aanspreekvorm wat in die vorige eeu moontlik kon dui op ʼn gebrek aan respek vir ouer mense. |
|
Reël 9–10: In hierdie versreёls verwys die spreker na haar ma as ʼn streng vrou en ʼn ma wat haar vorm ("beitel") met haar "swart oë". Haar ma hou haar waarskynlik goed dop en gee haar betekenisvolle kyke as sy oortree. "Spits woorde" sê vir ons dat haar ma streng en ferm is en huiwer om haar te dissiplineer of maniere te leer nie. |
|
Reël 11: Haar ma draai haar kop gereeld in die spreker se rigting. ʼn "Leiklipkop" verwys na ʼn kop vol kennis en wêreldwysheid. Haar ma is intelligent en het al baie dinge ervaar en eerstehandse kennis opgedoen. |
|
Reël 12: Haar ma is vriendelik, dog ferm. As die spreker in gemaksones verval of te ontspanne raak, "breek" haar ma haar "tente op". Sy moet dus altyd op haar hoede wees en nie stagneer nie. Haar ma bring haar gereeld terug aarde toe. |
|
Reël 13-14: Ten spyte van haar ma se strengheid, weet die spreker dat haar ma baie lief vir haar is, want sy dra haar elke aand aan haar "Here God" op. Sy vra dus die Here om haar kind te beskerm. |
|
Reël 15: "Moesie-oor" kan twee moontlike betekenisse hê: haar oor het ʼn moesie op, of hulle is besonder klein. Tog is dit die oor wat altyd na die spreker luister, die enigste persoon met wie sy kan praat as sy probleme het, haar vertroueling. |
|
Reël 16: Haar moederhuis is haar "bybel", die riglyne waarvolgens sy leef. Die reёls wat haar ma vir haar neergelê het, is altyd die voorbeeld wat sy volg en nastreef. |
|
Reël 17: Die spreker bedoel dat haar ma altyd die een is met wie sy kan praat om haar weer rustig te maak as die storms van die lewe om haar woed. Haar ma beskerm haar teen enige gevare wat rondom haar mag dreig. |
|
Reël 18-20: Die spreker vra verskoning dat sy nie die kind is wat sy graag vir haar ma wil wees nie. Sy het waarskynlik tekortkominge en doen soms dinge wat haar ma nie goedkeur nie. Sy wens sy kon meer gehoorsaam wees en nie haar ma teleurstel nie. |
INHOUD
Die digter noem hierdie gedig ʼn "kaalvoet-gedig" – dit beteken dat dit in alledaagse taal geskryf is en ʼn plat-op-die-aarde-gedig is. Ma is een van die bekendste gedigte wat op hoërskoolvlak met leerders bespreek word.
Die gedig is baie persoonlik van aard en die digter skryf dit in die eerstepersoon, waar ʼn jong meisie met haar ma praat. In die eerste strofe is dit amper asof die kind verskoning vra vir die feit dat die gedig so eenvoudig is. Sy sê vir haar ma dat sy hierdie gedig sonder enige pretensies skryf, kinderlik en eenvoudig. Verstegnieke soos rym, beskrywende woorde en oordadige leestekengebruik is verhewe taal en doelbewuste pogings om deftig te skryf. Omdat die gedig so eenvoudig geskryf is, is dit ook baie eerlik geskryf.
In die tweede strofe besing die jong meisie die kwaliteite wat sy van haar ma bewonder. Sy beeld haar ma as ʼn ronde karakter uit en probeer nie voorgee dat haar ma perfek is nie. Haar ma is die persoon wat haar boetseer (vorm) in die mens wat sy is. Haar ma maak haar nie mét haar klein krom handjies groot nie, maar ín haar hande. Haar ma se woorde is eerlik en reguit, sy draai nie doekies om nie. Haar ma se woorde en die reguit manier van ʼn mens aankyk, is deel van haar vormingsproses.
Die spreker beeld haar ma ook uit as ʼn persoon wat spontaan kan lag en nie toelaat dat die kind skanse om haarself opbou nie; sy glo aan oop kommunikasie en breek die tente (tydelike verblyf) op wat die kind soms rondom haarself skep. Saans bid sy gereeld vir haar kind.
Die spreker beskryf haar ma as ʼn goeie luisteraar. Sy het ʼn moesie aan haar oor, maar hierdie moesie-oor is die spreker se enigste telefoon. Sy weet dus dat haar ma simpatiek sal luister as sy iets met haar wil bespreek en dat sy die regte raad sal gee. Dít wat haar ma haar leer, is vir haar heilig en haar enigste rigsnoer waarvolgens sy haar lewe leef. Dit beskerm haar teen die aanslae van die lewe en laat haar veilig voel.
Ten slotte vra die spreker verskoning vir die feit dat sy nie vir haar ma die kind kan wees wat sy graag sal wil wees nie. Sy het miskien nie dieselfde oortuigings as haar ma nie en sy stem miskien nie altyd met haar ma se sienings saam nie, maar sy het geweldige bewondering vir haar ma as mens. Dít is die boodskap wat sy op kinderlik eerlike wyse aan haar ma probeer oordra.
BESPREKING
Die gebruik van die eerstepersoon-spreker gee aan hierdie gedig ʼn baie persoonlike en intieme toon. In die eerste strofe vrywaar die digter haar feitlik van enige kritiek op haar gedig deur te sê dat sy sekere stylmiddele opsetlik in hierdie gedig vermy.
Die eenvoud van hierdie gedig is funksioneel om die volgende redes: 1) Sy wil op ʼn kinderlik eenvoudige manier praat omdat sy self nog ʼn kind is. 2) Sy probeer nie doelbewus om grootse poësie te skep nie, maar slegs ʼn reguit en eerlike vers. 3) Omdat haar ma self reguit en onopgesmuk is, praat sy in die taal en met beelde wat haar ma die beste sal verstaan en waardeer.
"Jy draai jou leiklipkop" is ʼn interessante metafoor in hierdie gedig. Leiklip is hard (soos alle klip), maar kan soms ook bros wees. Dit dui moontlik aan dat haar ma hardkoppig, maar terselfdertyd ook teer en kwesbaar is. Leiklip is moontlik ook waarop haar ma as skoolkind leer skryf het (voordat skryfboeke op skool algemeen geword het). Die ouderwetse leiklipborde (swartborde) wat deur onderwysers gebruik is en die kleiner leie wat leerders in die hand vasgehou het om met ʼn griffel op te skryf, was vroeër ʼn algemene gesig in skole. Die "leiklipkop" kan dus ook ʼn aanduiding wees van haar ma se intellek en haar strewe om kennis aan haar kind oor te dra.
Let daarop dat die spreker in die gedig na God as haar ma se God verwys. Sy stem dus nie noodwendig met haar ma se geloofsoortuigings saam nie, maar sy bewonder haar nogtans vir haar onwrikbare geloof. Die feit dat die huis wat haar ma skep die spreker se "enigste" Bybel is, is ʼn verdere bewys dat sy nie haar ma se oortuigings deel nie.