LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 4-6
INHOUDSOPGAWE HOOFSTUK 4-6
Opsomming Hoofstuk 4
Opsomming Hoofstuk 5
Opsomming Hoofstuk 6
LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 4
DIE MEESTERSTUK
Inhoud
Juffrou Breytenbach, Lien se Afrikaans-onderwyseres, praat oor die nuwe
toneelstuk wat die matrieks gaan opvoer. Sy is baie entoesiasties daaroor, maar
die klas sien dit net as 'n ideale geleentheid om uit hul mondelingwerk uit te
kom. Juffrou Breytenbach stem uiteindelik in om 'n paar bladsye voor te lees.
Die stuk is gebaseer op die Amerikaanse film The Breakfast Club, maar niemand in die klas het ooit die fliek
gesien nie. Die stuk handel oor 'n groep skoolkinders se vrese, probleme en
drome.
Lien stel glad nie belang in die toneelstuk nie; sy verpes enigiets wat
Amerikaans is. Sy wonder wat die middag by Malie Dry se koffiekroeg vir haar
inhou en gee glad nie aandag aan juffrou Breytenbach nie. Die onderwyseres stel
voor dat Lien die klas verlaat as sy nie belangstel nie. Wanneer sy begin
voorlees, raak die kinders stil en hulle begin aandagtig luister, selfs Lien;
hulle is geboei deur die teks en is spyt as die periode verby is. Juffrou Breytenbach
belowe om die res van die stuk daardie Vrydag klaar te lees.
As Lien by die deur wil uitstap, vra juffrou Breytenbach dat sy 'n rukkie moet
agterbly. Lien is ongemaklik en weet nie waaroor dit gaan nie. Juffrou
Breytenbach wil weet hoekom Lien kwaad vir almal is. Volgens haar haal Lien
haar onderdrukte woede op almal om haar uit. Sy is onwillig om saam te werk en
wil nie nuwe vriende maak nie. Sy doen net dinge as sy gedwing word om dit te
doen. Lien het baie potensiaal as leerling, maar sy handhaaf 'n baie lae
profiel. Juffrou Breytenbach stel voor dat Lien met iemand oor haar probleme
moet gesels – sy is self ook bereid om te help waar sy kan. Lien kyk juffrou
Breytenbach sprakeloos aan.
Juffrou Breytenbach versoek Lien om vir een van die rolle in die toneelstuk te
kom lees, maar Lien sê dat sy nie van Amerikaners se arrogante houding hou nie.
Volgens juffrou Breytenbach is die stuk tyd- en plekloos en dit handel oor
tieners, nie spesifiek oor Amerikaners nie. Lien vertel dat sy in die middae
werk en tussendeur matriek moet probeer deurkom.
As Lien by die klaskamer uitstap, is sy onseker oor haar gevoelens. Sy voel
blootgestel by die besef dat iemand anders dieper gekyk het en iets in haar
ontdek het wat sy tot nou toe vir haarself gehou het. Sy voel kwaad dat juffrou
Breytenbach so in haar 'bubble' ingeklim het en haar gedrag probeer analiseer.
Tydens die Wiskunde-les besef Lien hoe woedend sy vir juffrou Breytenbach is.
Sy kan glad nie op haar werk fokus nie, en as sy na skool saam met Wouter stap,
vertel sy hom dat sy so kwaad is dat sy moord kan pleeg. Wouter luister
geduldig na Lien se tirade. Hy dink Lien het oorreageer en dat juffrou
Breytenbach dit goed bedoel het. Lien is kwaad dat hy haar nie ondersteun nie
en as sy vinnig wegstap, beland sy amper voor 'n aankomende motor. Sy dink
Wouter het haar verwerp en in die rug gesteek.
As Lien by die woonstel kom, lê Braam soos gewoonlik voor die televisie; dit
irriteer Lien intens. Haar ma het daardie oggend gekla van maagprobleme en gesê dat sy nie werk toe gaan nie. Sy is egter nie by die woonstel nie en
Braam weet ook nie waar sy is nie. Lien is bang dat haar ma haar werk by die
Departement van Binnelandse Sake gaan verloor omdat sy so dikwels afwesig is. Lien maak vir haar en Braam sop warm en vra dat hy die soppot moet was
en vir tannie Bets moet terugneem, maar hy weier volstrek en sê dat Lien dit self kan doen. Hy het geen simpatie met die feit dat Lien
by Malie Dry se 'Garden of Evil' moet gaan werk om vir hulle kos te kan koop
nie.
Bespreking – enkele
belangrike aspekte in hierdie hoofstuk
Lien probeer ongesiens deur haar matriekjaar kom. Sy doen slegs wat van
haar verwag word en wil nie by enigiets betrokke raak nie. Juffrou Breytenbach
weet egter dat Lien tot baie meer in staat is: sy is 'n slim en talentvolle
dogter en juffrou Breytenbach wil sien dat sy haar vermoëns benut. Sy dink Lien
is onregverdig om haar opgekropte woede op almal om haar in die skool uit te
haal. Sy bied aan om Lien te help, of anders moet Lien hulp gaan soek.
Lien is verward en geskok as sy besef dat juffrou Breytenbach daarvan bewus is
dat sy probleme het. Sy het gemengde gevoelens hieroor – aanvanklik is sy
beïndruk deur juffrou Breytenbach se skerp waarneming. Sy vervies haar egter
dat die onderwyseres haar privaatheid wil binnedring. Teen die einde van die
skooldag is sy woedend vir juffrou Breytenbach. As sy vir Wouter daarvan vertel
en nie die verwagte steun en simpatie kry nie, word sy ook vir Wouter kwaad en
storm alleen huis toe.
By die woonstel vind sy haar broer voor die televisie. Haar ma is nie tuis nie,
maar Lien weet sy het nie gaan werk nie; sy is bekommerd dat haar ma haar werk
gaan verloor. Sy vervies haar vir Braam se slapgathouding en gebrek aan
samewerking, terwyl sy moet probeer om hulle almal se lewens bymekaar te hou.
LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMING HOOFSTUK 5
5. LIENTJIE LIEFLIK
Inhoud
Die koffiekroeg is baie stiller as die vorige
dag. Malie is in die kombuis besig om met een van die werkers te raas wat 'n
sny koek te groot gesny het. Dan storm sy by Lien verby sonder om haar raak te
sien. Lien besluit om uit Moeilike Malie se pad te bly en doen haar werk sonder
enige insident. Teen halfvyf bereken sy dat sy ongeveer R15 se fooitjies
verdien het. Sy is moedeloos en wens Wouter was daar om haar te ondersteun.
As Lien met 'n skinkbord vol leë koppies en bordjies kombuis toe gaan, bots sy
teen Agnes wat op daardie oomblik deur die swaaideur uitkom. Koek en breekgoed
spat in alle rigtings. Klante draai in hul rigting om die petalje te aanskou.
Agnes besef dat hulle in groot moeilikheid by Malie is. Malie behou haar
glimlag teenoor die klant wat sy besig is om te bedien, maar Lien besef dis net
toneelspeel. Malie ignoreer die insident tot nadat sy die geld in die
kasregister getel het, dan stap sy kombuis toe en vra dat die twee kelnerinne
haar moet volg.
In die kombuis gaan krap Malie tussen die gebreekte goed in die asblik en maak
dan somme op haar optelmasjientjie. Volgens haar beloop die skade R128.50, en
die twee meisies sal 'n paar dae lank sonder betaling moet werk om vir die
skade te vergoed. Agnes aanvaar dit gelate, maar Lien objekteer en sê dat dit 'n
ongeluk was. Malie vervies haar en sê dat Lien met so 'n houding nie die
volgende dag hoef terug te kom nie. Lien dink aan die kos wat sy met die geld
wou koop en hoe sy geld wil spaar om eendag oorsee te gaan. Alles lyk skielik so
onmoontlik.
As Lien by die huis kom, is haar ma se kamerdeur toe. Dit beteken haar ma het
dronk tuisgekom en slaap dit nou af. Sy wonder waar haar ma na werk gaan drink,
want sy drink tog sekerlik nie by die werk nie. Sy besluit om tannie Bets se
soppot terug te neem. Sy voel baie sleg oor die werk by Malie Dry wat nie
uitgewerk het nie, want dit was tannie Bets wat vir haar die werk gekry het.
Die voordeurklokkie lui en as Lien oopmaak, is dit hulle jong predikant in
byderwetse klere en met 'n opstaankuif. Hy was nog net een keer tevore by hulle
en wil weet hoe dit gaan. Braam spring vinnig regop waar hy voor die televisie
lê as hy die predikant sien. Hulle begin oor rugby gesels en Lien gaan koffie
maak. In die kombuis kyk sy na die prent wat Braam van hulle gesin en hulle straat
geteken het toe hy vyf jaar oud was. Braam het 'n prys daarvoor gewen. Lien
besef hoe hulle lewens sedert daardie tyd verander het. Sy wonder wat die
predikant sal dink as hy haar ma nou in haar beskonke toestand moet sien.
Lien is verwonderd oor die selfvertroue waarmee Braam met die predikant gesels.
Sy voel oorbodig, want hulle gesels steeds oor rugby. Later vra Kuifie haar uit
oor die skool en sy antwoord kortaf. Voordat hy vertrek, nooi hy Lien en Braam
om die volgende Sondag se jeugdiens by te woon. Hy sê ook dat hy bereid is om
te help as hulle enige probleme het. As die predikant weg is, besef Lien dat sy
hom baie sleg behandel het. Sy kyk na haarself as die klein dogtertjie op Braam
se prent en wonder wanneer sy in die aaklige mens ontaard het wat sy op die
oomblik is.
As Lien met die soppot by tannie Bets aankom, is tannie Bets baie bly om Lien
te sien. Sy dring aan dat Lien moet bly vir koffie en swartwoudkoek. Tannie
Bets is op 'n streng dieet, maar sy bederf haarself soms met lekkernye.
Alhoewel die woonstel dieselfde as Lien-hulle s'n is, lyk dit baie geselliger.
Tannie Bets is baie lief vir countrymusiek en dit pas by haar vrolike woonstel.
Lien vertel vir tannie Bets dat haar werk by die koffiekroeg nie uitgewerk het
nie. Tannie Bets is nie kwaad nie, want sy weet dat Malie Dry 'n moeilike vrou
is. Sy stel voor dat Lien met Dirkie en Donovan gaan praat, want hulle soek
dringend na 'n assistent om in die middae in hul haarkappersalon te kom help.
Dirkie woon in dieselfde woonstelblok as Lien en tannie Bets.
Na 'n lekker kuiertjie en 'n tweede stuk swartwoudkoek gaan klop Lien aan
Dirkie se deur. Sy ken Dirkie net van sien en hy lyk nie baie vriendelik
wanneer hy die deur oopmaak nie. Wanneer sy sê dat sy belangstel om vir hulle
te kom werk, kyk Dirkie krities na Lien se hare en hy wil weet of sy enige
ervaring met hare het. Hy sê dat die werk net tydelik is totdat hul assistent
van kraamverlof terugkeer. Hy vra Lien se telefoonnommer en sê hy sal haar laat
weet, aangesien iemand anders ook in die werk belangstel. Hulle sal Lien R15
per uur betaal en sy mag haar hare gratis laat sny.
As Lien weer in die woonstel kom, is haar ma se deur steeds toe. Braam lê en
fliek kyk. As Lien in die bad lê, besef sy dat Wouter besig is om deel van
Jakaranda Hoërskool te word en sy nie. 'Wouter is nou een van húlle. Hy het
tuis geraak. Sy het haar brother in arms verloor.' Sy gaan die volgende oggend
vroeër as gewoonlik skool toe, want sy is kwaad vir Wouter en wil nie saam met
hom skool toe stap nie.
Bespreking – enkele belangrike aspekte
in hierdie hoofstuk
Hierdie hoofstuk is vol teleurstellings vir Lien. 'n Groot skok en teleurstelling
wag op haar wanneer sy haar werk by Malie Dry verloor. Sy móét 'n deeltydse
werk hê, want haar ma kan nie vir haar en Braam sorg nie en haar droom is om
oorsee te gaan as sy klaar is met skool. Braam is nie bereid om Lien enigsins
te help nie en sy besef sy is op haarself aangewese om hulle aan die gang te hou.
Gelukkig is daar die moontlikheid van 'n deeltydse werk by Dirkie en Donovan se
haarsalon, maar dit sal net tydelike verligting bring.
Die predikant daag op en kan sien dat Lien-hulle sukkel. Hy bied hulp aan, maar
Lien is nie bereid om openhartig te wees oor hulle probleme nie. Hy en Braam
gesels lekker, maar Lien is geïrriteerd en terughoudend. As Lien later in die
bad lê, voel sy eensaam en verbitterd omdat sy dink dat selfs haar beste
vriend, Wouter, sy rug op haar gedraai het. Hy het ingeburger geraak by hulle
nuwe skool en is nie meer haar 'brother in arms' nie.