Sondag 22 November 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 31-33

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 33

GELDIG VIR DERTIG DAE

Inhoud

As Lien in die Engels-klas kom, lê daar 'n koevert van Venter Construction op haar bank. Dit is Hein se kwotasie vir die rytoestel, netjies uiteengesit met verskillende spesifikasies. Die kwotasie is vir 30 dae geldig en beloop R2 800. Dis heelwat meer as wat Lien verwag het, alhoewel Hein haar nie vir arbeid laat betaal nie. Sy beduie in sy rigting dat sy die kwotasie aanvaar.

Lien besluit om daardie middag die ander bedelaars bymekaar te roep. Sy is seker hulle sal iets bydra, want 'Tibbey is hulle pel. Tibbey is álmal se pel'. Wanneer sy Roos vra om saam met haar met die ander te gaan praat, ontwikkel Roos skielik maagpyn en Lien moet dit alleen doen. Sy vertel vir al die bedelaars van die geskenk vir Tibbey, maar elkeen het 'n ander verskoning om nie by te dra nie. As sy by die boom kom, sit Roos rustig en rook, die maagpyn heeltemal vergete. Sy bied darem aan om 'n bydrae te lewer, maar Lien besef dat sy uiteindelik alleen vir die karretjie sal moet betaal.

'n Lang man met donker hare en 'n gholfstok in sy hand staan met sy rug na die kamera. Hy draai om en praat in die rigting van die kamera. 'n Groep mense hou hom dop. Die beeld verskuif na 'n tienermeisie met lang donker hare. Sy dra 'n gholfsak oor haar skouer en praat met die man, skynbaar onbewus van die kamera. Die man bestudeer die putjie 'n entjie verder aandagtig en die meisie beduie wat hy moet doen. Wanneer hy uiteindelik die bal slaan, rol dit netjies tot in die gaatjie. Die man en die meisie lyk baie opgewonde en tevrede met die sethou.

Die kamera fokus nou op 'n groep mense voor 'n geel banier met die woorde: Corporate golf day in aid … 'n Man wat lyk of dit Ernie Els kan wees, oorhandig 'n trofee aan die lang man met die donker hare. 'n Mens kan sien hoe die mense in die agtergrond hande klap. Die wenner roep iemand nader en die tienermeisie verskyn weer in beeld. Sy loop skaam nader en hulle poseer glimlaggend en hand-om-die-lyf vir die kamera.

Hy skakel die video af en staan 'n rukkie stil in die vertrek. Hy plaas sy hande op 'n denkbeeldige gholfstok en korrel in die rigting van die venster. Hy lig sy stok en slaan dan met al sy krag …

Dirkie laai vir Lien voor die hospitaal af. Dis besoektyd en die hospitaal is baie besig. Sy vind Tibbey in 'n groot saal tussen baie ander pasiënte. Sy oë is toe en sy weet nie of sy hom moet wakker maak nie. Lien gaan sit op die bankie langs Tibbey se bed en hou die ander pasiënte en besoekers dop. Wanneer sy sy hand vat, maak hy sy oë oop en staar haar aan; Lien weet nie wat om te sê nie en vertel dan dat sy vir hom eet- en drinkgoed gebring het. Sy besluit om hom nog nie te vertel van die karretjie en van haar besoek aan meneer Van Biljon nie. Wanneer sy oor Roos en die ander bedelaars praat, toon Tibbey geen belangstelling nie. Lien is heimlik bly wanneer besoektyd verby is. Op pad huis toe, praat sy en Dirkie ook nie. As Lien by die huis kom, skakel sy meneer Van Biljon om te hoor wat hulle besluit het. Hy sê Tibbey mag terugkom rolbalklub toe, maar hy is nie van plan om Tibbey te versorg nie. Lien is baie bly en bedank hom hartlik daarvoor.

Tydens 'n volgende hospitaalbesoek gaan Lien na suster Vermeulen se kantoor toe. Die vrou staan voor die venster en rook wanneer Lien daar aankom. Lien wil uitvind oor Tibbey se vordering, maar sy weet nie eintlik wat om te sê nie. Die suster sê dat Tibbey aan depressie ly oor die ledemate wat hy verloor het. Sy dink darem dat sy toestand sal verbeter, want hy reageer goed op fisioterapie en hy kan steeds beweeg al het hy sy bene verloor. Sy gemoedtoestand sal ook verbeter wanneer hy weer in sy roetine kom. Lien is bekommerd oor al die mediese koste, maar die suster verseker haar dat die staat die kostes dra, aangesien Tibbey 'n staatspasiënt is.

Lien se ma is in die kliniek en dis vir Lien moeilik om by haar uit te kom, omdat die kliniek nie op 'n busroete geleë is nie. Lien wil haar besoek, maar iets hou haar terug. Sy is kwaad en weet nie of sy haar ma kan vergewe vir wat sy aan hulle doen nie. Sy wonder of dinge ooit weer dieselfde kan wees soos wat dit was voordat al hierdie aaklige dinge gebeur het …

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien se entoesiasme om vir Tibbey 'n karretjie te laat maak, word effens gedemp as sy 'n kwotasie vir R2 800 by Hein kry. Dit is slegs vir die materiaal wat gebruik moet word, want Hein is bereid om dit gratis te maak. Lien besef dat dit vir haar 'n groot finansiële terugslag sal beteken. Sy besluit om al die bedelaars in die omgewing vir 'n donasie te vra, maar Roos is skepties daaroor; sy belowe darem om iets by te dra. Roos word reg bewys as niemand bereid is om 'n bydrae te lewer nie en Lien besef dat sy alleen sal moet opdok.

As Lien Tibbey weer in die hospitaal besoek, is sy toestand onveranderd. Hy lê net na haar en staar en dit lyk of hy sy lus om te lewe, verloor het. Hy toon geen reaksie op Lien se teenwoordigheid nie en sy verlaat die hospitaal weer eens in 'n baie swartgallige bui. Haar bui verander darem later wanneer sy die goeie nuus kry dat Tibbey weer by die rolbalklub mag kom woon. As Lien by 'n volgende besoek met suster Vermeulen gaan praat oor Tibbey se toestand, sê die suster dat hy aan erge depressie ly en dat dit normaal is onder die omstandighede. Hulle voorsien dat hy vinniger sal herstel wanneer hy weer in sy bekende omgewing en roetine is. Lien is bekommerd oor die koste van Tibbey se mediese behandeling in die hospitaal, maar die suster verseker haar dat hy as 'n staatspasiënt beskou word en dus nie aanspreeklik vir enige koste sal wees nie.

Hierdie hoofstuk wemel dus van slegte sowel as goeie nuus.

In die videogrepe wat gespeel word, is dit duidelik dat daar 'n besonderse band tussen die man en die dogtertjie bestaan. Hy wen 'n gholftoernooi nadat sy hom bygestaan het met sy sethoue. Hy erken dan ook haar bydrae wanneer hy haar nader roep om saam met hom afgeneem te word waar hy sy trofee in ontvangs neem.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking