Sondag 20 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 4–6

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMING HOOFSTUK 6

A CHANGE OF SCENERY

Inhoud

Omdat Lien vroeër as gewoonlik by die skool is, kan sy op die internet ingaan voordat die ander leerlinge daarby kan uitkom. Sy sal haar voorbereiding vir die taak oor beroepe by die skool moet doen, want hulle het nie internet by die huis nie. As Lien in die biblioteek kom, soek sy inligting oor die toelatingsvereistes tot die regsberoep by die universiteite van Pretoria en Johannesburg, maar sy kry nie veel nie.

Meneer Visagie pak die koerante uit en Lien lees dat 'n olielekkasie die Noorweegse kus bedreig. Sy kliek op die Noorweegse webblad en raak gefassineer deur die pragtige natuurskoon, totdat 'n seun langs haar ook die internet wil gebruik om navorsing vir Geskiedenis te doen.

Lien het gedink dat Wouter vies sal wees omdat hy moontlik voor skool by die telefoonhokkie vir haar gewag het, maar hy is vriendelik en opgewek teenoor haar. Net voor die Biologieles stop hy vir haar 'n Milo Bar en 'n briefie in die hand waarin hy verskoning vra en haar uitnooi om die volgende middag saam met hom koffie by Wimpy te gaan drink. Hy eindig die briefie met 'Pals for life!' en Lien is verlig dat die vorige dag se insident nie hul vriendskap bederf het nie.

As Lien na skool vir Wouter wag, sien sy hoe hy saam met twee meisies aangestap kom. Sy voel heimlik jaloers. Hy is verbaas om haar te sien, want hy het gedink dat sy dadelik geloop het om te gaan werk. Sy vertel hom van die insident in die koffiekroeg en hy vind dit snaaks, al probeer hy simpatiek wees. Hy nooi haar Wimpy toe en sy vertel hom dat sy dalk 'n werk by Millennium Creations kan kry.

Lien-hulle gaan buite op Wimpy se stoep sit en sy geniet dit as sommige skoolkinders by haar en Wouter verbystap en wonder wat hulle twee se verhouding is. Terwyl Lien en Wouter 'n bord aartappelskyfies deel, hoor sy hoe meisies by 'n ander tafel oor hul matriekafskeidrokke gesels. Dit irriteer haar intens, want sy dink 'n matriekafskeid met duur uitrustings en seuns wat meisies met deftige voertuie wil beïndruk, is 'n absolute klug, die 'sirkus van die jaar'.

Lien en Wouter het al vroeër besluit om nie die matriekafskeid by te woon nie. Sy wonder nou wat die ander sal sê as sy en Wouter met T-hemde en denims daar opdaag of as sy haar ou rooi sweetpak aantrek. Skielik sak Wouter op sy knieë voor Lien neer en vra haar om saam met hom matriekafskeid toe te gaan. Hy sal vir hom 'n weermaguniform huur en Lien in 'n helikopter daarheen neem. Haar ma mag ook saamgaan 'as sy 'n bietjie liquid inspiration sal saambring'.

Lien lag soveel vir Wouter se verspotte voorstel dat sy in haar kos verstik. Hy is opgewonde oor die idee om matriekafskeid toe te gaan om die ander mense te gaan skok met hul vreemde voorkoms. Hy stel voor dat hulle swart denims en T-hemde dra en iets vreemds met hul hare aanvang. Wouter is ernstig oor die saak, maar Lien dink dis 'n verspotte idee. Sy is so dankbaar dat sy en Wouter vriende is, want hy laat haar lag en goed oor haarself voel.

As Lien by die woonstel kom, is daar niemand. Sy dink dat haar ma gaan werk het en Braam is ook nie daar nie. Sy maak vir haarself 'n toebroodjie van die laaste stukkie kaas en tamatie in die yskas en geniet dit om alleen te kan wees. Sy dink aan haar en Wouter se vriendskap. Sy kan sien dat hy ongemaklik is as sy nie met die ander kinders wil meng nie. Hy wil hê sy moet vir 'n oudisie gaan vir die toneelstuk en sy oorweeg dit ter wille van hulle vriendskap. As sy Wouter se vriendskap verloor, het sy niemand anders nie.

As Lien by die skool opdaag vir die oudisie, is daar ongeveer dertig kinders wat vir die agt praatrolle moet kompeteer. Juffrou Breytenbach verduidelik hoe die oudisie werk. Sy gaan sit voor in die saal terwyl elke aspirant-akteur 'n stuk van die teks op die verhoog moet voorlees. Die eerste rol waarvoor gelees word, is die lekker rol van Rona. Dié karakter is 'n bedorwe brokkie wat, ten spyte van al hulle geld, sielsongelukkig is en met dwelms deurmekaar raak. Lien verlustig haar daarin om te sien hoe die seuns se selfvertroue verkrummel as hulle alleen op die verhoog moet verskyn om vir húlle rolle te lees.

Miemie Spies lees vir die rol van Jenny, 'n sletterige karakter wat die seuns manipuleer. Lien kan haar Miemie nie in dié rol voorstel nie. Miemie staar lank in stilte voor haar uit en party meisies begin ongemaklik giggel. Wanneer sy uiteindelik begin lees, doen sy dit in 'n bulderende stem, terwyl sy bewegingloos oor almal se koppe heen na 'n punt agter in die saal staar. Die ander meisies giggel en Lien is self dik van die lag. Later lag almal hard en openlik vir Miemie se koddige vertoning; selfs juffrou Breytenbach moet haar lag bedwing. As Miemie klaar is, kry sy 'n luide applous van die kinders wat haar oudisie terdeë geniet het. Vol selfvertroue verlaat Miemie die verhoog.

Lien is baie senuweeagtig om vir 'n rol te lees. Net as sy op die verhoog staan, lui juffrou Breytenbach se selfoon en sy verlaat die saal vinnig. Lien gaan agter die gordyn staan omdat sy nie die ander kinders se starende oë op haar wil voel nie. Lien voel vreemd hier op die verhoog, 'n eienaardige gevoel wat sy nog nooit voorheen ervaar het. 'Sy voel 'n snaakse vrede, asof sy in 'n wolk dryf, afgesny van die wêreld. Dis net sy en die reuk en die hitte van die ligte.'

As juffrou Breytenbach weer terug is op haar pos, versoek sy dat Lien die rol van Maria moet lees. Maria is 'n eienaardige karakter wat min sê en hoofsaaklik met haar gesigsuitdrukkings en lyftaal kommunikeer. Sy wonder hoekom sy juis vir hierdie rol moet lees – dink juffrou Breytenbach dat sý eienaardig is? Lien begin lees en dink dat sy 'n groot gek van haarself maak met Maria se eienaardige sêgoed. Die applous wat sy kry, is maar flouerig en Lien voel teleurgesteld. Dan troos sy haarself met die gedagte dat sy in elk geval nie in die simpel toneelstuk wil speel nie.

As Lien by die woonstel aankom, ruik sy die gebraaide knoffel en uie van hul bure se aandete. Sy is egter verbaas as sy besef dat die reuk uit húlle woonstel kom. Lien is verstom om haar ma voor die stoof te sien kosmaak terwyl sy na Classic FM luister. Die glas wyn staan soos gebruiklik ook daar, maar alles lyk heel normaal wanneer sy vir Lien 'n drukkie gee. As Braam tuiskom, is hy net so verbaas om sy ma voor die stoof aan te tref.
As Lien op haar bed gaan sit, dink sy oor haar ma en wat die afgelope twee jaar met hulle gebeur het. Dit voel soos twee eeue. Sy moet 'n opstel skryf oor My most embarrassing moment. Lien het in die laaste tyd vele sulke oomblikke beleef. Terwyl sy hieraan dink, kry sy 'n boodskap op haar foon om te sê dat sy die volgende middag by die haarsalon kan begin werk. Sy sal R45 per dag verdien, maar dis nie naasteby genoeg om tot die huishouding by te dra én nog te spaar vir 'n vliegtuigkaartjie nie. Sy hoop Dirkie-hulle sal haar 'n verhoging gee as sy goed werk.

Lien se ma roep hulle vir ete en vir die eerste keer in 'n lang tyd sit hulle as 'n gesin saam om die tafel en eet. Lien kan sien hoe opgewonde Braam hieroor is. Hy vertel van sy krieketspan se kanse om die liga te wen en hoe hulle iemand soek om die span te borg. Die speler wat 'n borg kan vind, kan vyftien persent kommissie verdien. Hulle ma gesels saam; sy is 'mellow, maar hoegenaamd nie geel (dronk) nie'. Die atmosfeer is aansteeklik en Lien vertel van die oudisie wat sy afgelê het. Haar ma is baie bly daaroor en sê Lien moet haar laaste skooljaar geniet.

As Lien se ma saam neurie aan 'n opera-aria, stel Braam voor dat hulle na ander musiek luister. Hy gaan haal 'n CD van die Black-Eyed Peas en sy luister aandagtig daarna. Braam is in ekstase as sy ma sê dat sy daarvan hou. Na ete bied hy selfs aan om vir Lien met die skottelgoed te help. Die atmosfeer in die woonstel is baie gemoedelik wanneer Lien se ma uiteindelik gaan bad en Braam sy plek voor die televisie inneem. Lien gaan kamer toe om haar opstel te gaan skryf. Lien sukkel met die opstel. As sy later vir haar gaan koffie maak, sien sy hoe haar ma met die wyndoos op pad kamer toe is. Lien is baie teleurgesteld en besluit om die volgende oggend vroeg op te staan om die opstel klaar te skryf. Sy luister na die woorde van Norah Knowitall Jones terwyl sy haar koffie drink …

* * *

Die man en vrou staan voor 'n laning wit rose en kyk na die kamera. Hulle is in deftige aandklere geklee. Hy sê iets vir haar en hulle lag. Sy draai skuins en buig agteroor in die man se arms terwyl sy haar een been dramaties oplig. Dan haak sy by die man in terwyl hulle albei vir die kamera glimlag.

Hy stop die video voor die einde, ruk dit uit die videomasjien en smyt dit vies in die boks waarin die ander video's is.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien en Wouter se vriendskap is ongeskonde na die vorige dag se uitval. Sy is baie bly dat hulle steeds sielsgenote is. Hulle is krities oor die matriekafskeid en oorweeg dit selfs om dit te ontwrig deur uitspattige klere daarheen te dra. Lien is bly dat sy en Wouter dieselfde oor dinge voel en sy oorweeg dit selfs om 'n oudisie af te lê ter wille van Wouter. Wanneer sy dit doen, is die oudisie 'n mislukking en Lien voel heimlik teleurgesteld.

By die woonstel wag daar 'n aangename verrassing op Lien en Braam. Hulle ma maak kos en kom normaal voor. Hulle bring kwaliteit-tyd as gesin deur en albei kinders is uitbundig. Die 'change of scenery' is 'n aangename ervaring totdat Lien haar ma later met die doos wyn in haar hand sien kamer toe stap. Dan besef sy dat niks werklik verander het nie. Lien se teleurstellings hou eenvoudig nie op nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking