Sondag 20 September 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 4–6

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 4

DIE MEESTERSTUK

Inhoud

Juffrou Breytenbach, Lien se Afrikaans-onderwyseres, praat oor die nuwe toneelstuk wat die matrieks gaan opvoer. Sy is baie entoesiasties daaroor, maar die klas sien dit net as 'n ideale geleentheid om uit hul mondelingwerk uit te kom. Juffrou Breytenbach stem uiteindelik in om 'n paar bladsye voor te lees. Die stuk is gebaseer op die Amerikaanse film The Breakfast Club, maar niemand in die klas het ooit die fliek gesien nie. Die stuk handel oor 'n groep skoolkinders se vrese, probleme en drome.

Lien stel glad nie belang in die toneelstuk nie; sy verpes enigiets wat Amerikaans is. Sy wonder wat die middag by Malie Dry se koffiekroeg vir haar inhou en gee glad nie aandag aan juffrou Breytenbach nie. Die onderwyseres stel voor dat Lien die klas verlaat as sy nie belangstel nie. Wanneer sy begin voorlees, raak die kinders stil en hulle begin aandagtig luister, selfs Lien; hulle is geboei deur die teks en is spyt as die periode verby is. Juffrou Breytenbach belowe om die res van die stuk daardie Vrydag klaar te lees.

As Lien by die deur wil uitstap, vra juffrou Breytenbach dat sy 'n rukkie moet agterbly. Lien is ongemaklik en weet nie waaroor dit gaan nie. Juffrou Breytenbach wil weet hoekom Lien kwaad vir almal is. Volgens haar haal Lien haar onderdrukte woede op almal om haar uit. Sy is onwillig om saam te werk en wil nie nuwe vriende maak nie. Sy doen net dinge as sy gedwing word om dit te doen. Lien het baie potensiaal as leerling, maar sy handhaaf 'n baie lae profiel. Juffrou Breytenbach stel voor dat Lien met iemand oor haar probleme moet gesels – sy is self ook bereid om te help waar sy kan. Lien kyk juffrou Breytenbach sprakeloos aan.

Juffrou Breytenbach versoek Lien om vir een van die rolle in die toneelstuk te kom lees, maar Lien sê dat sy nie van Amerikaners se arrogante houding hou nie. Volgens juffrou Breytenbach is die stuk tyd- en plekloos en dit handel oor tieners, nie spesifiek oor Amerikaners nie. Lien vertel dat sy in die middae werk en tussendeur matriek moet probeer deurkom.

As Lien by die klaskamer uitstap, is sy onseker oor haar gevoelens. Sy voel blootgestel by die besef dat iemand anders dieper gekyk het en iets in haar ontdek het wat sy tot nou toe vir haarself gehou het. Sy voel kwaad dat juffrou Breytenbach so in haar 'bubble' ingeklim het en haar gedrag probeer analiseer. Tydens die Wiskunde-les besef Lien hoe woedend sy vir juffrou Breytenbach is. Sy kan glad nie op haar werk fokus nie, en as sy na skool saam met Wouter stap, vertel sy hom dat sy so kwaad is dat sy moord kan pleeg. Wouter luister geduldig na Lien se tirade. Hy dink Lien het oorreageer en dat juffrou Breytenbach dit goed bedoel het. Lien is kwaad dat hy haar nie ondersteun nie en as sy vinnig wegstap, beland sy amper voor 'n aankomende motor. Sy dink Wouter het haar verwerp en in die rug gesteek.

As Lien by die woonstel kom, lê Braam soos gewoonlik voor die televisie; dit irriteer Lien intens. Haar ma het daardie oggend gekla van maagprobleme en gesê dat sy nie werk toe gaan nie. Sy is egter nie by die woonstel nie en Braam weet ook nie waar sy is nie. Lien is bang dat haar ma haar werk by die Departement van Binnelandse Sake gaan verloor omdat sy so dikwels afwesig is. Lien maak vir haar en Braam sop warm en vra dat hy die soppot moet was en vir tannie Bets moet terugneem, maar hy weier volstrek en sê dat Lien dit self kan doen. Hy het geen simpatie met die feit dat Lien by Malie Dry se 'Garden of Evil' moet gaan werk om vir hulle kos te kan koop nie.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Lien probeer ongesiens deur haar matriekjaar kom. Sy doen slegs wat van haar verwag word en wil nie by enigiets betrokke raak nie. Juffrou Breytenbach weet egter dat Lien tot baie meer in staat is: sy is 'n slim en talentvolle dogter en juffrou Breytenbach wil sien dat sy haar vermoëns benut. Sy dink Lien is onregverdig om haar opgekropte woede op almal om haar in die skool uit te haal. Sy bied aan om Lien te help, of anders moet Lien hulp gaan soek.
Lien is verward en geskok as sy besef dat juffrou Breytenbach daarvan bewus is dat sy probleme het. Sy het gemengde gevoelens hieroor – aanvanklik is sy beïndruk deur juffrou Breytenbach se skerp waarneming. Sy vervies haar egter dat die onderwyseres haar privaatheid wil binnedring. Teen die einde van die skooldag is sy woedend vir juffrou Breytenbach. As sy vir Wouter daarvan vertel en nie die verwagte steun en simpatie kry nie, word sy ook vir Wouter kwaad en storm alleen huis toe.

By die woonstel vind sy haar broer voor die televisie. Haar ma is nie tuis nie, maar Lien weet sy het nie gaan werk nie; sy is bekommerd dat haar ma haar werk gaan verloor. Sy vervies haar vir Braam se slapgathouding en gebrek aan samewerking, terwyl sy moet probeer om hulle almal se lewens bymekaar te hou.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking