Sondag 11 Oktober 2026

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 13-15

LIEN SE LANKSTAANSKOENE OPSOMMINGS HOOFSTUK 15

'N BOTTEL ENERGADE

Inhoud

Lien hou baie van Tibbey en sy lag vir sy kostelike sêgoed. Hy leer vir haar die fynere tegnieke van bedel en hoe sy mense moet benader sodat hulle mildelik sal gee. Lien besef ook nou dat elkeen sy eie gebied het waar hy werksaam is en dat hulle nie in mekaar se gebied oortree nie. Sy hoop net haar voorganger, Johnny, kom nie terug om sy hoek op te eis waar sy nou staan en bedel nie.

Roos bly onvriendelik en ignoreer Lien die meeste van die tyd. Sy praat Sotho met Tibbey sodat Lien nie kan verstaan nie. Op 'n dag vra Lien tydens teetyd vir Roos waar sy Sotho leer praat het. Sy antwoord kortaf dat sy dit lank gelede op 'n plaas geleer het. Lien sien dat 'n jong vrou met spierwit gebleikte hare en drie kindertjies laat in die middag vir Roos kom oplaai. Sy kan nie uitmaak of die kinders seuns of dogters is nie, maar besluit om liewers nie uit te vra nie.

Tibbey is baie vermaaklik en hy laat die motoriste skater. Roos noem sy hoek die 'Entertainment Corner'. Hy is baie voorbarig, maar dit werk vir hom. Hy verdien baie meer geld as Lien en Roos met sy sprankelende persoonlikheid. Hy het verskillende plakkate, maar hy verkies om daarsonder te bedel. Op sy nuutste plakkaat noem hy homself 'homeless and parentless'. Hy woon egter in 'n kamer by die rolbalklub, 'n paar blokke van die winkelsentrum af. Hy werk twee dae per week in die klub se tuin om vir die kamer te betaal. Tibbey vererg hom wanneer Lien vra of hy ook skuldig voel om ander mense se geld te vat sonder om iets daarvoor te doen. Volgens hom verskaf hy vermaak aan mense en hy laat hulle goed oor hulleself voel wanneer hulle vir hom geld gee.

Lien raak stadigaan gewoond aan haar nuwe lewe op straat. Die nuwe skoene help ook om die lang staan draagliker te maak. Die vrug en bottel Energade wat sy elke dag saambring, verlig die ergste honger en dors. Sy besef dat die Pretorianers altyd haastig en op pad êrens heen is. Verskillende mense toon verskillende reaksies op haar teenwoordigheid by die kruising; die meeste mense ignoreer haar net. Dit lyk asof haar teenwoordigheid hulle ongemaklik laat voel en laat besef dat hulle slegs met genade in 'n beter situasie as sy is.

Lien dink dat sy 'n baie goeie plek gekies het om te kom bedel. Sy is ver genoeg van die huis af om nie herken te word nie, maar tog is dit slegs 10 minute se ry met die bus om by die huis te kom. Wanneer sy wel bekendes sien, besef sy dankbaar dat hulle haar gelukkig nie sal herken met die pruik en brilletjie nie. Dis asof Lien se hele identiteit verander wanneer sy smiddae haar vermomming aantrek. Sy kan amper self nie glo dat sy die meisie is wat die rol van 'weird' Maria in die skoolopvoering speel of die meisie wat soggens voor skool op die internet ingaan nie. 'Hier is sy iemand in 'n ander vel. 'n Bedelaar, laer as slaksleepsel.' Hierdie rol is dalk die beste rol wat sy ooit sal vertolk.

Bespreking – enkele belangrike aspekte in hierdie hoofstuk

Mettertyd begin Lien gewoond raak aan haar nuwe voorkoms en identiteit. Sy besef dat bekendes haar nie maklik met haar vermomde voorkoms sal herken nie. Sy kan nie glo dat sy dieselfde persoon is wat soggens op die skoolbanke sit en saans die rol van Weird Maria vertolk nie.

Tibbey is vriendelik en spontaan teenoor Lien, maar sy sukkel om 'n band met Roos te vorm; sy bly stug en terughoudend en Lien wil dit nie waag om haar oor haar persoonlike lewe uit te vra nie.

Sondag 04 Oktober 2026