SONVANGER (liriek) – Valiant Swart
Inhoud
Ons vind hier ʼn liriek wat skynbaar geskryf is na aanleiding van die dood van ʼn geliefde vriend wat altyd warmte en lig aan die spreker se huis verskaf het. Die huis het nou donker en koud geword. Die spreker probeer die sonvanger oorreed om weer die son terug te bring in sy lewe. Die spreker wil graag weer die warmte en die gelag beleef wat vroeër in die huis geheers het. ʼn Sonvanger het die vermoë om die warmte en lig van die son te absorbeer en in die huis in te kaats.
Sonvanger is ʼn liriek en dit is dus belangrik dat ʼn mens ook na ʼn musikale weergawe daarvan luister. Valiant Swart sê die volgende oor die skryf van lirieke: "Om ʼn stel verse en kore te skryf wat in absolute harmonie met ʼn stuk musiek kan saamleef, vereis dat ʼn mens die instinktiewe met die tegniese versoen." Hierdie liriek is skynbaar geskryf na die verlies en dood van ʼn goeie vriend. In ʼn liriek word vreugde of smart op vrye, ongedwonge en dikwels sangerige wyse verwoord.
In hierdie liriek praat die spreker die hele tyd met die sonvanger. Die son word hier as ʼn simbool gebruik. Let daarop hoe herhaling in hierdie liriek plaasvind (byvoorbeeld die koorgedeelte), maar hoe daar ook variasie in hierdie liriekherhaling plaasvind.
In strofe 1 vind ons ʼn kontras tussen lig en donker. Die kamer waarna daar verwys word, was vroeër skynbaar lig, warm en vol uitbundige gelag; nou is dit egter donker en koud, selfs voor die venster. Die laaste versreël staan dus in skrille kontras met die neerdrukkende atmosfeer van die derde reël. In hierdie strofe versoek die spreker die sonvanger om die son te "vang" en in die huis in te bring. Die implikasie is dus dat die son nie maklik is om in die hande te kry nie.
In strofe 2 word die sonvanger versoek om die son te "bring" nadat hy hom gevang het. Die son sal ook nou dieper in die huis inskyn; in die gange sal die son nou ʼn liedjie kan sing. Die kontras hier is tussen stilte en geluid. Die koue/stilte kan hier ʼn letterlike sowel as figuurlike betekenis hê. Die spreker praat van die "koue seisoen" met reën en wind, wat moontlik op tipiese Kaapse winterweer kan dui. Dit kan egter ook verwys na die koue en stilte in sy gemoed, na die stilte wat gevolg het nadat die klanke van musiek uitgedoof is. Nou vra die spreker die sonvanger om weer warmte en musiek in die huis te bring. Die musiek (liedjie) is reeds daar, dit wag net om weer gesing te word.
Die koorgedeelte is eintlik ʼn logiese voortsetting van die eerste twee strofes. Die spreker nooi die son om weer te kom skyn en daarmee saam lig en warmte in die huis te bring. Hy kan nie verstaan hoe die somer sommer net so kon verdwyn het nie. Dit kan weer eens verwys na die skielike verlies van ʼn geliefde vriend. Met hóm daar was daar altyd lig en warmte. Daar was altyd musiek en vrolike stemme. Die spreker besef nou hoe hy gewoond geraak het aan die warmte wat altyd daar was. Hy kan nie verstaan hoe alles eenvoudig verdwyn het nie, nie net vir die spreker nie, maar vir almal. Dis hoekom hy nou praat van "ons somer".
In strofe 3 word die huis waarna daar in die eerste twee strofes verwys word, nou die spreker se hart. Hy wil graag hê dat die son in sy hart moet kom bly; daar is ʼn spesiale plekkie daarvoor. Hy hunker daarna om weer vreugde en lighartigheid te kan beleef; hy wil weer sorgeloos voel. Die son moet in die tuin van sy hart kom speel, al beteken dit dat die sonvanger in die proses die son moet gaan steel en terugbring na waar dit hoort.
Die gebruik van woorde soos "vang" en "steel" dui op
die spreker se desperaatheid om die son weer ʼn permanente deel van sy lewe te
maak. Die spreker verwys in die laaste strofe na die "draaie op my pad"
en hoe donker en gevaarlik dit is. Hy besef hoe kwesbaar hy is en hoe donker sy
eie hart geword het. Die herhaling van die koorgedeelte beklemtoon nie net die
spreker se behoefte en verlange nie, maar ook sy onvermoë om te verstaan hoekom
die son so skielik uit sy lewe kon verdwyn het.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking