ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE – Nelia Engelbrecht
VIR ONDERWYSERS
Hierdie verhaal is 'n tipiese voorbeeld van 'n jeugverhaal vol toevallighede en kitsoplossings. Triz-hulle se nuwe bure het 'n identiese drieling en die drie vriendinne kan hulle nie van mekaar onderskei nie. Is dit nie net té toevallig dat dit elke keer Gareth is met wie Corli paaie kruis en nie een van sy broers nie? Is dit ook blote toeval dat Corli haar gunsteling blou bikini in die drieling-hulle se kleedkamer vergeet het toe sy 'n vorige keer (toe die vorige bure nog daar gewoon het) daar gaan swem het? Sekerlik het Triz-hulle ook 'n swembad. Waarmee het Corli intussen geswem – en hoekom het sy nooit die moeite gedoen om haar gunsteling bikini vroeër te gaan haal nie? Wat het die nuwe bure van die blou bikini gedink en hoekom het hulle dit nie uitgehaal toe hulle skoon handdoeke in die kas gesit het nie?
Is dit blote toeval dat die yskas in die drieling-hulle se kleedkamer vol versnaperinge is waaraan Corli haar so mildelik help? Koeldrank maak miskien nog sin – maak allerlei versnaperinge? Is dit ook toevallig dat Corli onmiddellik aan die slaap raak wanneer sy haar op die rusbank in die kleedkamer uitstrek – en dít terwyl sy besig is om op wildvreemde mense se eiendom te oortree en hul privaatheid te skend? Dink sy nie aan wat die moontlike gevolge van haar onbesonne optrede kan wees nie?
Ons lees dat die drieling die volgende jaar ook na Noordkop Hoërskool toe gaan – net soos die meisies. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat hulle elkeen reeds 'n eie motor het en 'n lisensie om sonder toesig daarmee rond te ry.
Dit wil voorkom asof die skrywer van hierdie verhaal baie hard probeer het om van die verhaal 'n moderne sprokiesverhaal te maak. Die onmoontlikhede en onwaarskynlikhede wat ons hier aantref – is algemeen in fantasieverhale – maar nie in werklikheidsituasies nie. Miskien was dit nooit die skrywer se bedoeling om die verhaal as 'n werklikheid uit te beeld nie. Hieroor kan daar beslis gedebatteer word.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking