Saterdag 16 Augustus 2025

ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE – Nelia Engelbrecht

ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE – Nelia Engelbrecht

KARAKTERS EN VERHOUDINGS

Die drie vriendinne

Corli – Triz en Vanessa is reeds jare lank beste vriendinne. Ons lees dat Rosy hulle saam sien grootword het. Alhoewel hulle baie uiteenlopende persoonlikhede het – is hulle baie geheg aan mekaar en hulle sal mekaar altyd beskerm. Toe Kristen op laerskool vir Triz afgeknou het – het Corli vir Kristen vasgehou terwyl Vanessa kougom in haar hare gedruk het. Dit is 'n duidelike bewys van die vriendinne se lojaliteit teenoor mekaar.

Corli het 'n baie sterk en oorweldigende persoonlikheid. Sy kom uit 'n gebroke huis waar sy moontlik reeds van kleins af vir haar regte moes opstaan. Vanessa is eweneens 'n sterk persoonlikheid en sy en Corli verskil soms in hul sienings. Dan is dit Triz wat as die vredemaker optree en verhoed dat haar twee vriendinne kwaad vir mekaar word.

Triz is die huislike een wat daarvan hou om kos te maak en daaroor te praat. Vanessa is baie fiksheidsbewus en sy bring ure in die kompleks se gimnasium deur. Haar goed-gevormde bene getuig van die gereelde oefening wat sy kry. Corli weet hoe om te flankeer en sy is baie uitgesproke. Sy het baie selfvertroue en beskou Gareth de Beer as 'n uitdaging omdat hy ook 'n gladde mond het en met sy sjarme en persoonlikheid mense heeltemal kan oorrompel.

Die drie 'bere'

Die De Beer-broers is 'n identiese drieling en alhoewel hulle presies eenders lyk – het hulle elkeen 'n eie persoonlikheid. Hulle verskillende persoonlikhede pas goed by die drie vriendinne wat hulleself aan die drieling kom voorstel. Gareth is die een wat skynbaar nogal 'n hoë dunk van homself het. Hy beskou homself grappenderwys as die aantreklikste van die drie broers en die slagspreuke op sy T-hemde getuig ook van sy groot ego. Tog voel Corli tot hom aangetrokke – want sy het 'n soortgelyke persoonlikheid en sy beskou hom as 'n uitdaging. Sy wil slegs flankeer – want sy stel nie in 'n vaste verhouding belang nie – veral nie nadat sy ervaar het hoe haar ouers se huwelik misluk het nie.

Grant vind dadelik aanklank by Triz – die huislike een wat hulle met 'n tuisgebakte koek kom verras. Hy nooi haar om saam met hom bordjies te gaan haal sodat hulle dadelik van die koek kan eet. Graham het net oë vir Vanessa – want hy het 'n oog vir 'n mooi-geboude meisie. Hy kan skaars sy oë van Vanessa se mooi bene afhou. Die kans dat hulle mekaar voortaan gereeld in die kompleks se gimnasium sal ontmoet – is baie goed. Vanessa is gedurig daar en te oordeel aan die drieling se mooi lywe – bring hulle self graag heelwat tyd in 'n gimnasium deur.

Dis duidelik dat die drie broers mooi maniere het en baie gasvry – vriendelik en behulpsaam is. Hulle laat die drie meisies onmiddellik tuis voel en die jongklomp geniet mekaar se geselskap.

Corli en Gareth

Corli en Gareth se eerste kennismaking vind op 'n vreemde manier plaas wanneer Corli struikel en bo-op Gareth in 'n sonstoel te lande kom toe sy haar aan hom wou voorstel. Hy skerts daaroor en sy steek haar verleentheid weg deur 'n pittige opmerking te maak. Die geselskap tussen hulle vlot maklik tydens hierdie eerste ontmoeting.

Die volgende dag gaan Corli alleen na Gareth-hulle se huis toe om haar blou bikini te soek. Sy raak aan die slaap in hulle aantrekkamer en dis waar Gareth haar later aantref. Hy vergelyk haar met Gouelokkies wat ook by die drie bere se huis aan die slaap geraak het nadat sy hulle kos geëet het. Corli is vies as Gareth probeer voorgee dat hy sy broer Graham is. Sy vind hom arrogant en besluit dat sy niks met die De Beer-broers te doen wil hê nie – veral nie met die windmakerige Gareth nie.

Corli se volgende ontmoeting met Gareth is by die restaurant waar sy werk vir sakgeld. Hy word vergesel van Kristen – 'n meisie in Corli se skool van wie Corli niks hou nie. Kristen gaan uit haar pad uit om 'n gek van Corli voor Gareth te maak en die galante Gareth probeer sy bes om die vrede te bewaar. Wanneer Kristen vir Corli opsetlik pootjie en Corli op die vloer beland – kom Gareth dadelik tot haar redding en help haar op. Hy dring daarop aan om Corli hospitaal toe te neem sodat sy behandeling kan ontvang. 'n Verbaasde Kristen word alleen agtergelaat met die belofte dat een van Gareth se broers haar huis toe sal neem.

Op pad na Corli se huis toe – bieg sy teenoor Gareth dat sy vir hom gejok het toe sy gesê het dat sy ook in die luukse sekuriteitsoord Glenhaven woon. Hy het dit egter reeds geweet en hy hou dit nie teen haar nie. Hy voel duidelik tot Corli aangetrokke wanneer hy vorentoe leun en haar soen. Dit laat haar soos Aspoestertjie voel wat in 'n ware prinses verander het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking