Saterdag 16 Augustus 2025

ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE – Nelia Engelbrecht

ASPOESTERTJIE EN DIE DRIE BERE – Nelia Engelbrecht

INHOUD EN BESPREKING

Drie beste vriendinne – Corli – Triz en Vanessa – staan op die balkon voor Triz se kamer en kyk na die identiese drieling wat onlangs langs Triz-hulle ingetrek het. Die drieling – Graham – Grant en Gareth de Beer is buite by hulle swembad en die meisies bewonder hulle pragtige lywe. Corli – die meisie wat nie in dieselfde kompleks as die ander woon nie – stel voor dat hulle oorstap en hulleself aan die broers gaan voorstel. Triz het daardie oggend 'n koek gebak en wil hê hulle moet daarvan vir die drieling neem om hulle te verwelkom.

As die drie vriendinne by die nuwe boere kom – loop Corli reguit na die hunk in die sonstoel en steek haar hand uit om hom te groet. Haar plakkie haak egter aan die plaveisel vas en sy beland bo-op hom op die stoel. Vanessa dink dis baie snaaks. Corli sien watter pragtige blou-groen oë die seun – wat homself as Gareth voorstel – het. Sy stel haar twee vriendinne aan die broers voor. Grant stel baie belang in die koek wat Triz saamgebring het – terwyl Graham hom verkyk aan Vanessa se pragtige bene.

Grant nooi Triz om saam met hom bordjies te gaan haal – terwyl Graham vir die meisies vrugtesap inskink. Wanneer Gareth vir Corli vra of sy die een is wat langs hulle woon – sê sy dat sy en Vanessa net om die hoek woon; Triz is die een wat langs die drieling woon. Vanessa gaap Corli aan oor die blatante leuen – want Corli woon nie in Glenhaven nie – maar Corli kyk haar waarskuwend aan. In die volgende uur of wat leer Corli meer omtrent die drieling-broers. Dit lyk of Gareth die windgat-broer met die gladde mond is. Corli beskou dit as 'n uitdaging vir haar – want sy is self iemand met baie selfvertroue wat altyd gereed is met 'n antwoord.

Die volgende dag stap Corli alleen na die drieling se huis toe om haar blou bikini te gaan soek. Niemand maak die deur oop wanneer sy die voordeurklokkie lui nie en sy stap om die huis na die swembad toe. Die aantrekkamer se deur is oop en Corli kry haar blou bikini agter 'n stapel handdoeke in die kas. Daar is 'n yskas in die vertrek en Corli help haarself aan koeldrank en versnaperinge. Kort daarna raak sy behaaglik aan die slaap op die rusbank.

Corli skrik wakker wanneer een van die drieling praat en die situasie met dié van Gouelokkies vergelyk. Hy sê hy is Graham en hy nooi Corli om saam met hom te kom swem. As Corli die woorde agterop sy T-hemp sien – besef sy egter dat dit net Gareth kan wees – want dit is dieselfde soort egoïstiese boodskap as op die hemp wat Gareth die vorige dag gedra het. Gareth erken dat sy hom uitgevang het en Corli besluit dat sy niks met die De Beer-broers te doen wil hê nie – veral nie met die windgat Gareth nie.

Corli werk saans in 'n restaurant om ekstra sakgeld te verdien. Dis Vrydagaand en Corli se ma gaan laai haar by die restaurant af. Hulle spreek af dat haar ma haar weer om twaalfuur sal kom oplaai. Die restaurant is baie besig en op 'n stadium kom Kristen – 'n meisie in Corli se klas – saam met Gareth de Beer by die restaurant aan. Corli en Kristen kom al sedert hul laerskooldae nie oor die weg nie – en Kristen sal enigiets doen om Corli te verneder. Gareth lyk baie sexy en Corli sien hoe aantreklik hy is.

Kristen gaan uit haar pad om Corli voor Gareth te verneder. Eers gee sy voor dat Corli haar bestelling vir 'n melkskommel verkeerd uitgevoer het – en sy dreig om die bestuurder te roep as Corli dit nie dadelik regstel nie. Dan kla sy dat die biefstuk nie behoorlik gaar is nie en sy dring daarop aan dat Corli dit moet terugneem kombuis toe. As sy later kla dat die nagereglepel vuil is – vererg Corli haar behoorlik – blaas op die lepel en vryf dit teen haar langbroek blink. Kristen wil ontplof – maar Gareth probeer die situasie red deur vir haar 'n ander lepel aan te bied.

Wanneer Corli tien minute later weer by Gareth en Kristen verbyloop – steek Kristen haar voet uit en pootjie vir Corli. Sy val en brekende borde en glase beland saam met haar op die vloer. Dis die tweede keer in een week dat Corli voor Gareth neerval en sy kan dit nie glo nie. Sy is na aan trane – terwyl Kristen die situasie oënskynlik baie geniet. Die galante Gareth help Corli om op te staan en hy sien dat Corli haar hand gesny het. Die bestuurder dring daarop aan dat Corli nie daardie aand verder werk nie. Hy bied aan om Corli hospitaal toe te neem – want sy sal moontlik steke moet kry. Gareth sê egter dat hy vir Corli hospitaal toe sal neem. Hy sal een van sy broers vra om Kristen te kom oplaai en huis toe te neem.

Corli se besering is nie baie ernstig nie en sy dring daarop aan dat Gareth haar direk huis toe neem. Sy bieg teenoor hom dat sy nie in Glenhaven woon nie – maar hy weet dit reeds – want Rosy – die huishulp – het dit vir hom gesê. Rosy is 'n groot skinderbek en sy weet wat in die meeste huishoudings in Glenhaven aangaan. Op pad na Corli se huis toe sê Gareth dat hy glad nie beïndruk was met Kristen se gedrag nie en hy vertel dat sy opsetlik vir Corli gepootjie het. Hy het Kristen daardie oggend vir die eerste keer in die kompleks se gimnasium ontmoet en hy het gedink dat sy nogal gaaf was; nou dink hy egter anders.

Wanneer Corli-hulle voor haar huis stilhou – leun Gareth skielik vorentoe en vee haar hare uit haar gesig. Hy noem haar 'Gouelokkies' en dit laat haar voel asof sy haar in 'n sprokie bevind. Sy beskou haarself egter eerder as Aspoestertjie – die arm meisietjie wat deur haar stiefsusters geboelie is – Aspoestertjie 'sonder 'n koets en glasskoentjies'. Dit maak egter nie vir Gareth saak nie en hy soen haar innig. So beland 'Aspoestertjie' dan in die arms van haar prins en word sy 'n ware prinses op die oomblik dat die klok twaalfuur slaan ...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking