Saterdag 19 Julie 2025

STERREKYKER – Franci Greyling

REËLVERKLARINGS

Vir die bespreking van hierdie gedig, sal ons aanvaar dat die spreker ʼn meisie is.

Titel

ʼn Sterrekyker is iemand wat die sterre bestudeer en elke aand die hemelruim dophou om te sien of daar enige beweging in die sterrestelsel is.

Reёl 1

Die uitdrukking: "Vertel dit vir die man op die maan" word gewoonlik gebruik wanneer ʼn mens nie glo wat iemand jou vertel nie. Dit lyk dus of die man op die maan die enigste een is wat die inhoud van die spreker se brief sal glo.

Reёl 2

Die spreker skryf ʼn lang brief vir die man op die maan – bladsye vol. Daar is baie dinge wat sy hom wil vertel.

Reёls 3–4

Die spreker plaas die brief in ʼn koker, ʼn silindriese houer wat sy dan aan ʼn pyl vasheg. ʼn Koker is gewoonlik die houer waarin pyle gebêre word, maar hier word die koker ʼn deel van die pyl en bevat die belangrike brief.

Reёls 5–6

Die spreker skiet die pyl en koker met ʼn wilgerboog die lug in. Wilgerhout is baie buigsaam en kan suksesvol gebruik word om ʼn boog van te maak. Die pyl verlaat die boog en seil dan die naglug in.

Reёls 7–8

Die spreker sien hoe die pyl deur die sterre trek. Wanneer die pyl die maan bereik, draai dit om die maan en trek dan verder die naglug in. Die pyl trek dus deur die hele hemelruim.

Reёls 9–10

Dit wil voorkom asof die spreker nie die enigste persoon is wat ʼn brief vir die man op die maan geskryf het nie, want skielik word ʼn duisend briewe in die lug losgelaat (gesaai).

Reёls 11–13

Die spreker wonder nou of die man op die maan ooit haar brief ontvang het en dit gelees het. Sy vra die leser of hy/sy ook hieroor wonder. Soveel verskillende briewe (met ongelooflike stories) is aan die man op die maan gestuur dat die spreker twyfel of hy haar spesifieke brief sou ontvang en gelees het.

Reёls 14–15

Die spreker wonder of al die briewe nie dalk by iemand anders uitgekom het wat dit nou lees nie. Omdat daar so baie briewe was, het die briewe dalk in die verkeerde hande beland. Sy het die man in die maan as ʼn vertroueling beskou, maar wat bedoel was om persoonlik van aard te wees, is nou dalk nie meer ʼn geheim nie.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking