Saterdag 19 Julie 2025

HERE BE DRAGONS – Izak se Vries

HERE BE DRAGONS: REËLVERKLARINGS

 

Reël 1, 2

Dis vir jongmense van die rekenaareeu maklik om geheime kodes (passwords) te ontsyfer wat toegang tot iemand se persoonlike rekenaardata verleen.

 

Reël 3, 4

Met behulp van ʼn rekenaarmuis kan ʼn mens maklik toegang tot ʼn groot verskeidenheid inligting verkry; die muis is vasberade om nuwe domeine te ontgin.

 

Reël 5

Die spreker vra dat sy pa hom nie beperk en daarvan weerhou as hy inligting op die internet gaan soek nie

 

Reël 6

Om inligting te soek, het vir hom soos ʼn godsdiens geword; hy is totaal daarvan afhanklik vir sy voortbestaan. Hy soek sy pad deur die lewe deur GoogleEarth op sy rekenaar te ontgin; dit help hom om nuwe wêrelde te ontdek.

 

Reël 7

Booshede en versoekings lê nie net op die internet vir ʼn mens en wag nie; die strate daarbuite is vol daarvan. Daar is erger dinge daarbuite waaraan ʼn mens verslaaf kan raak as aan die internet.

 

Reël 8

Seksoortreders wag jou nie net op internet-kletskamers in nie, selfs onderwysers by die skool kan pedofiele wees wat graag met skoolkinders lol.

 

Reël 9, 10

Die jongmense weet waartoe hul rekenaars in staat is; met die sleutelbord van ʼn rekenaar is die moontlikhede eindeloos, want rekenaars is baie "slimmer" as wat baie mense dink.

 

Reël 11, 12

Die spreker versoek dat sy pa vir hom die vryheid moet gee om met die hulp van sy rekenaar nuwe vriende te maak en met mense op ver plekke kontak te maak en inligting uit te ruil, selfs al is sommige van hierdie mense nie noodwendig goed nie.

 

Reëls 13–15

As die jongmense nie rekenaartoegang het nie, sal hulle nie weet hoe om dinge vir hulleself toe te eien en nuwe dinge te ontdek en hul eie te maak nie. Deur ʼn vlag te plant of ʼn kleim af te steek, het mense vroeër aangedui dat hulle besit geneem het van iets; jongmense wil dieselfde doen deur middel van rekenaarontginning.

Reël 16         

Hy versoek sy pa weer eens om nie in sy pad te staan nie en hom sy vryheid te gun.

 

Reël 17

Hy vra egter ook dat sy pa hom sal ondersteun as hy op sy ontdekkingstog foute begaan en seerkry; sy pa moet hom nie verwerp nie.

 

Reël 18

Hy weet dat daar in sy soeke ook slegte dinge met hom kan gebeur, soos virusse wat rekenaardata kan beskadig of vernietig.

 

Reël 19

Die name van twee gevreesde rekenaarvirusse wat rekenaardata aanval en vernietig.

 

Reël 20

Nie net gaan die virusse sy rekenaar binnedring en data uitwis nie; dit sal hom ook persoonlik skade berokken en laat ly, want alles sal skielik verlore wees.

 

Reël 21, 22

As so iets met hom gebeur, hoop hy sy pa sal daar wees om hom te ondersteun en by te staan.

 

Reël 22, 23

As hy bedreig voel en wil wegvlug van die "pedofiele en sluipduiwe" van die rekenaar, hoop hy dat hy op sy pa se troos en steun kan reken.

 

Reël 24

Hy hoop sy pa sal bereid wees om met ʼn simpatieke oor na hom te luister as hy hom van sy probleme vertel.

 

Reël 25

Hy hoop sy pa sal bereid wees om as ʼn skakel, ʼn konneksie, tussen hom en dít wat hom bedreig, te dien; hy hoop sy pa sal hom help om uit die moeilikheid te kom.

 

Reël 26, 27

Hy hoop dat sy pa nie sal weier om hom te ondersteun nie, dat sy pa nie gevoelloos en harteloos teenoor hom sal staan sodat hy sy probleme alleen moet probeer oplos nie. Hy is nie opgewasse om die kuberstorm alleen te beveg en die stryd te wen nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking