BUSRIT IN DIE AAND – Elisabeth Eybers
INHOUD
Aan die einde van ʼn lang en vermoeiende werksdag is ʼn bus vol werkers op pad huis toe. Niemand praat nie en almal staar maar net voor hulle uit. Dis al laat in die dag en dis ʼn lang en vermoeiende rit huis toe. Die roete is vol opdraandes en afdraandes en die bus trek swaar aan sy vrag. Die bus word as't ware ʼn verlenging van die passasiers wat daarin ry: dis moeg en beur moeisaam om vorentoe te kom. Dit lyk ook of dit gereën het, want lang ligstrepe val oor die pad; dit bemoeilik die gevaarlike busrit nog verder.
Die buspassasiers word as slagoffers van die stad uitgebeeld. Die bus is die kaperskuit (seerowerskip) wat met sy buit iewers heen op pad is. Die mense is te moeg om enige weerstand te bied en hulle besef dat môre nie anders sal wees nie. Die eentonigheid van die stadswerkers se bestaan word in hierdie gedig beklemtoon, asook die feit dat hulle vasgevang is in ʼn situasie waaruit hulle nie kan ontsnap nie.
Die spreker en sy/haar metgesel is ook op die bus en staan in sterk kontras met die res van die passasiers. Hulle is vrolik en uitbundig soos twee kinders. Die rede hiervoor is moontlik dat hulle nie stadswerkers is wat vasgevang is in die sleur (roetine) van ʼn werkersbestaan nie. Die rede kan ook wees dat hulle saam is, dat hulle op mekaar kan steun.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking