INHOUD EN BESPREKING
Die spreker vertel hoe sy (vermoedelik ʼn meisie) ʼn baie lang brief aan die man op die maan skryf. Ewe hoopvol skiet sy die brief met ʼn pyl en boog af nadat sy dit eers opgerol en in ʼn koker geplaas het. Sy sien hoe die pyl met haar brief hoog in die lug optrek, tot by die sterre, en dan uiteindelik om die maan gaan draai. Tot op hierdie stadium is sy nog hoopvol dat die man op die maan haar brief sal ontvang en lees. Nadat dit ʼn draai om die maan gemaak het, trek die pyl egter verder die naglug in. Haar hoop vervaag wanneer sy verbaas sien hoe die pyl al hoe verder en verder die naglug inbeweeg en langs die pad duisende briewe loslaat ("saai"). Dit laat haar wonder of die man in die maan ooit háár brief gaan kry om te lees. Sy wonder of daar dalk iemand anders is wat al die briewe lees en nie die man in die maan nie.
Die meisie het vermoedelik die brief geskryf omdat niemand anders na haar wou luister nie. Daar bestaan ʼn uitdrukking "Gaan sê/vertel dit vir die man in die maan", wat gebruik word wanneer ʼn persoon jou nie glo of nie na jou wil luister nie. Dis moontlik hoekom die spreker nou hierdie lang brief aan die man op die maan skryf. Sy het so baie om te vertel en niemand wil na haar luister nie. Ongelukkig het die man op die maan ook die reputasie dat hy nie veel weet nie, soos blyk uit die uitdrukking: om soveel van iets te weet as die man in die maan = om absoluut niks van ʼn saak te weet nie. Dit lyk dus nie of die man in die maan haar enige nuttige raad sal kan gee nie, vanweë sy eie onkunde.
In reël 11 vervaag die meisie se hoop dat die man in die maan haar brief sal ontvang en lees, want daar is skielik duisende briewe wat aan hom gerig is. Vertwyfeling tree in en sy besef dat die man in die maan dalk nooit haar brief self sal lees nie, omdat daar so baie briewe is. Miskien is daar iemand anders wat namens hom die briewe lees. Die enigste vertroosting wat dié vreemde gebeure bied, is dat die arme meisie nie die enigste persoon in so ʼn situasie is nie. Daar is duisende ander mense na wie daar ook nie geluister word nie en wat ook briewe aan die man in die maan skryf. Dis weer eens ʼn bewys dat niemand se situasie ooit werklik uniek is nie, dat baie ander mense dieselfde lot met jou deel.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking