Dinsdag 29 Julie 2025

FOTO VAN MAN WAT VAL – Joan Hambidge

FOTO VAN MAN WAT VAL – Joan Hambidge

INHOUD

Die gedig is 'n reaksie op 'n foto wat tydens die gebeure by die World Trade Center in New York geneem is. Die twee toringgeboue is op 11 September 2001 gesaboteer en het kort daarna ineengestort. Toe die man op die foto besef dat hy nie die dood kan vryspring nie – het hy waarskynlik na sy dood gespring. 'n Fotograaf het hierdie sensasionele doodsprong op film vasgelê. Toe die foto aanvanklik in die koerant verskyn het – het niemand geweet wie die onbekende man was nie – maar later is vasgestel dat hy 'n Puerto Ricaan – ene Norberto Hernandez – was.

Die laaste oomblikke van Norberto Hernandez word met die kruisiging van Christus in verband gebring. Hierdie man hang ook tussen hemel en aarde en dis asof hy vasgespyker is aan die lot waaraan hy nie kan ontkom nie. Die vraag ontstaan egter wat met so 'n foto bereik wil word. Is dit eties reg om iemand in sy sterwensoomblik op so 'n wyse vas te vang en te verewig? Is dit regverdig van 'n fotograaf om iemand op só 'n wyse te kruisig ter wille van sensasie?

Dis interessant om daarop te let hoe die digter skryfteken-terme gebruik om na die man op die foto te verwys. Eers word hy met 'n uitroepteken (exclamation mark) vergelyk en later met 'n vraagteken (question mark). Die man se liggaamposisie op die foto herinner sterk aan hierdie twee skryftekens – albei tekens het 'n kolletjie onderaan wat aandui dat die man kop eerste grond toe tuimel. Sy een been is gestrek – terwyl die ander been gekrom is. Dit pas egter ook by die funksie wat hierdie skryftekens vervul: Die 'naamlose uitroepteken' verwys hier na die dramatiese gebeure van die oomblik toe die mense wat vir die aanval verantwoordelik was – nog onbekend was. Alhoewel die man op die foto se identiteit onbekend is – is die omstandighede waarin hy homself bevind – 'n voldonge feit.

'n Vraagteken lyk soos 'n gekromde uitroepteken (let op die kromming van die man se een been op die foto). Die vraagteken(s) waarna later verwys word – is al die vrae wat op hierdie stadium gevra word – nie net oor hierdie onbekende man nie – maar ook oor die rede en doel van die sinnelose aanval op duisende onskuldige mense. Vele uitroeptekens en vraagtekens was deel van daardie dag se gebeure.

Die spreker se verklaring vir die rede hoekom hierdie man na sy dood spring – is om van 'n pynlike vuurdood te ontkom. Dis dus 'n desperate poging om na 'n bestaan buite tyd (en pyn) te beweeg. Hy het besef dat die dood onvermydelik was en daarom het hy waarskynlik die pynloser dood verkies.

Die verwysings na die oordeelsdag en swael en vuur laat ons besef dat baie mense daardie dag gedink het dat die einde van die wêreld aangebreek het. Na die sondvloed het God gesê dat die aarde nie weer deur water sal vergaan nie – maar deur vuur en swael. Hy het ook die goddelose stede Sodom en Gomorra gestraf deur hulle in vlamme te laat opgaan en al die inwoners 'n vuurdood te laat sterf. Die boek Openbaring verwys ook dikwels na die rol wat vuur in die laaste dae sal speel.

In die voorlaaste strofe word daar na Norberto Hernandez verwys as 'bakker en skinker'. Dis 'n Bybelse verwysing waar Josef die twee gevange mans se drome moes uitlê (Genesis 40). Albei mans was desperaat om te bly lewe – maar uiteindelik het die bakker gesterf – terwyl die skinker se lewe gespaar is. Hernandez is tegelyk skinker en bakker: Hy het sy lewe verloor – maar deur hierdie foto het hy bly lewe. Dit sluit aan by die laaste strofe waar hy 'n engel genoem word ('n wese wat op aarde dood is – maar ná die dood nog voortbestaan). Vir hierdie man word die dood dus 'n verlossing en terwyl hy so deur die lug sweef – word hy 'n "engel wat … die ondraaglike breekbaarheid van lewe oorwin."

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking