Saterdag 19 Julie 2025

HERE BE DRAGONS – Izak se Vries

HERE BE DRAGONS: INHOUD & BESPREKING

Mitologies word ʼn draak dikwels met ʼn bose mag geassosieer wat oorwin moet word. Die titel van hierdie gedig is moontlik ontleen aan ʼn gelyknamige historiese roman wat in 1985 verskyn het of ʼn kort film met dieselfde titel. Here be dragons is ʼn moontlike verwysing na die pa in die gedig se gesindheid jeens die "bose" invloed wat rekenaars kan hê en die potensiële gevaar wat dit inhou. In rekenaarspeletjies verteenwoordig drake ook gewoonlik ʼn bose mag waarteen daar geveg word.

Ons kry hier ʼn kind wat met sy/haar pa praat. Vir besprekingsdoeleindes sal ons veronderstel dat dit ʼn seun is wat aan die woord is, maar daar is geen aanduiding van watter geslag die tiener is nie. Dis ʼn eensydige gesprek (monoloog), dus kan ons veronderstel dat dit die kind se gedagtes is waarvan ons hier lees en nie ʼn ware gesprek wat tussen tiener en ouer plaasvind nie.

Die pa het ʼn kodewoord op sy rekenaar geplaas om toegang daartoe te beperk, maar volgens die seun is dit baie maklik om deur die kodewoord te dring en sodoende toegang tot iemand anders se rekenaar-inhoud te verkry. Beperkings is dus daar om verbreek te word. Met sy rekenaar kan hy enige "nuwe ruimtes" van sy keuse ontgin. Die rekenaar­muis het tieners se trouste metgesel geword om inligting te bekom. Hul sleutelborde is "wyser" as wat die meeste volwassenes besef.

Die vermoë en wete dat die spreker sy rekenaar en ander s'n kan manipuleer, gee vir die tiener ʼn gevoel van mag. Sy pa kla blykbaar voortdurend oor al die tyd wat hy voor die rekenaar deurbring en al die "drake" waarmee hy tydens sulke sessies in aanraking kom. Hy kan nie verstaan dat die hedendaagse tieners rekenaars as ʼn ontsnappings-middel en as hul voorkeurgeselskap verkies nie.

Die spreker versoek sy pa om hom uit te los en nie in te meng as hy agter sy rekenaar doenig is nie. Jongmense van vandag het ʼn natuurlike gawe om met rekenaars te werk.

Volgens die seun kan ʼn mens op rekenaars inligting versamel en jou kennis uitbrei; dít het die religie van die hedendaagse jongmens geword. Die inligting wat op rekenaars beskikbaar is, kan jou gids en rigtingaanduider word. Vandag se tieners het nie meer ʼn kaart en kompas nodig om nuwe wêrelde te ontdek en drake te oorwin soos die seevaarders van ouds nie; hulle het hul eie GoogleEarth op die internet wat vir hulle nuwe wêrelde kan oopmaak en aandui waar hulle hul kleims kan afsteek of hul vlae moet plant.

Agter ʼn rekenaar voel tieners gekoester; hulle voel dat hulle in beheer van ʼn situasie en van hul lewens is. Terwyl hulle agter rekenaars sit, word hulle nie blootgestel aan al die versoekings daarbuite nie: dagga wat op straat verskaf word, onderwysers wat met skoolkinders lol en hulle seksueel wil molesteer. Al hierdie bose dinge word jongmense gespaar as hulle hul tyd agter rekenaars deurbring.

Die seun versoek sy pa om ʼn oop gemoed te hê en sy gesindheid te verander oor die jongmense van vandag wie se lewens totaal anders is as wat dit vroeër was. Hy versoek egter ook dat sy pa hom nie moet verwerp as hy in die proses foute maak en seerkry nie. Hy wil weet dat sy pa daar is vir hom as hy hom nodig het, as die dag aanbreek dat ʼn virus soos Trojan Horse of een van die wurm-virusse nie net die sagteware van sy rekenaar beskadig nie, maar ook vir hom as mens. "Dan, pa, dan sal my bréin met jou wil praat".

Die seun besef terdeë dat daar gevare verbonde is aan die onbekende wêreld wat die rekenaar ontsluit, maar hy hoop dat sy pa daar sal wees vir hom as sy internet-obsessie hom in die moeilikheid laat beland. Pedofiele is nie net onnies wat graag vroetel nie, die internet het ook sy eie pedofiele en sluipdiewe en die seun besef dit. Hy hoop net dat sy pa met ʼn simpatieke oor sal luister en bereid sal wees om as ʼn verbinding (skakel) tussen hom en sy probleem op te tree as so ʼn situasie sou ontstaan. Hy hoop dat sy pa nie sy hart teenoor hom sal verhard en van hom verwag om sy eie "kuberstorm" te trotseer nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking